Trougrimering het ’n groot invloed op hoe jy op jou foto’s lyk. Lees verder oor hoe jy op jou beste kan lyk.

Trougrimering is seker een van ’n bruid se grootste bekommernisse wanneer sy beplan om voor die kansel te staan. Die verkeerde grimering sal jou nie net oud laat lyk nie, maar kan ook uitstaan soos ’n seer oog as jy nie die regte kleure kies nie.

Onthou, jy gaan die heel dag in die kollig wees en jou foto’s is herinneringe wat vir altyd moet hou. As jy nie kan bekostig om in ’n professionele grimeerkunstenaar te belê nie, moet jy jou huiswerk behoorlik doen sodat jou trougrimering pragtig sal lyk.

ONDERLAAG
Jou onderlaag kan jou foto’s maak of breek. Kies medium- tot volle bedekking, wat nie lig reflekteer wanneer die kamera flits nie, want dit sal jou laat bleek lyk. As jy self jou trougrimering gaan doen, vra vir jou strooimeisie om seker te maak dat jou onderlaag oral goed ingevryf is.

OOGSKADU
Wanneer jy oogskadu kies, besluit op kleurpalette wat jou vel en oë komplementeer en nie noodwendig wat in die mode is nie. Vermy blinkers en doen jou trougrimering ’n bietjie donkerder sodat dit langer hou en geskik is vir die aandgedeelte van jou troue.

BLOSSER
Alhoewel niemand soos Heidi wil lyk nie, is blosser baie belangrik want dit gee jou ’n gesonde blos op jou wange en verhoud dat jy uitgewas lyk. Dit sal ook jou wangbene komplementeer – maar onthou dat minder in dié geval meer is.

LIPSTIFFIE
Besluit watter tipe lipstiffie jy wil hê en kies dan die kleur wat die beste by jou sal pas. Maak ook seker dat jy dit saamvat op die dag, sodat julle dit heeltyd kan opknap. Gebruik lipglans as jou hare uit jou gesig uit is en lipstiffie met ’n mat-afronding wanneer jy ’n meer elegante voorkoms wil hê.

Trougrimering kan regtig ’n groot impak hê op jou spesiale dag. Kies slim!

Foto: Lucy Dylan Weddings

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA