Jou gevolg speel ’n belangrike rol op julle spesiale dag. Dit is daarom belangrik dat elkeen van hulle op hoogte is van sake. An-Sophie Lourens verklap hoe strooimeisies en –jonkers in kontak kan bly.

Kommunikasie is nou maar een maal belangrik as jy ’n sukses wil maak van enigiets, veral jou troudag. As jou almal nie behoorlik met mekaar gesels nie, kan misverstande en krisisse insluip. Dit is daarom belangrik dat veral jou gevolg gereeld met mekaar praat.

Strooijonkers komunikeer dikwels net vinnig, vinnig met mekaar op WhatsApp en strooimeisies dalk tydens een of twee vergaderings. Dalk is gereelde ontmoetings tussen jou gevolg nie ’n slegte idee nie. Op hierdie manier leer almal mekaar ken en is almal op dieselfde bladsy.

Dit is nie net die dag van jou troue wat spesiaal is nie, maar ook die hele proses van beplanning en spesiale byeenkomste. Jy en jou verloofde het ook natuurlik julle hartsmense gekies om julle gevolg te wees op die spesiale dag. Hulle speel ʼn groot rol voor en tydens die troue.

Dit gebeur baie dat die gevolg mekaar glad nie ken nie, omdat dit ’n mengsel is tussen familie, afsonderlike en gesamentlike vriende. Dit is daarom baie belangrik dat jou gevolg mekaar een of twee keer ontmoet en gereeld kontak het.

HOEKOM SAL ONTMOETINGS TUSSEN DIE GEVOLG TOT VOORDEEL WEES:
• Dit kan die samewerking tussen mekaar baie beter maak. Dit is ʼn geleentheid om almal op dieselfde bladsy te kry, sodat almal weet wat julle graag voor of op die dag wil hê.
• Dit help ook om die dag van die troue mooi foto’s saam te neem, aangesien hulle meer gemaklik voor mekaar kan wees.
• Dit is dalk ʼn goeie geleentheid om ou koeie te begrawe. Dalk is daar vriende of vriendinne met ʼn geskiedenis of dalk het hulle sommer net besluit hulle hou nie van mekaar nie. Na ʼn paar ontmoetings sal hulle dalk anders voel oor mekaar of dalk net mekaar aanvaar soos hulle is. Dit sal voorkom dat daar op ongeleë tye konflik ontstaan.
• Soos wat ʼn mens saamkom en gesels oor die troue, kan julle dalk net aan uitstekende idees dink vir die troue. Die gevolg se bydrae kan help om die dag onvergeetlik te maak. Partykeer is ʼn mengsel van beide geslagte se idees baie beter as slegs een party se opinie.
• Dit is werklikwaar ʼn manier om julle ondersteuningsnetwerk te kan aanskou en te kan weet, daar hoef geen senuwees te wees nie. Julle het ʼn wenspan beet!

MANIERE EN WENKE OM ONTMOETINGS TE HÊ EN TE REËL:
• Eerstens bevestig dalk ʼn paar datums met die lede van julle gevolg. Dit is ongelukkig ʼn realiteit dat almal hulle eie besige skedules het en dit moeilik gaan wees om almal bymekaar te kry. Kry genoeg opsies vir datums vir as iets voorval julle ʼn Plan B het. Al het julle tien datums wat kan werk, gebruik al tien. Daar is nooit ʼn verskoning vir ʼn lekker samesyn nie.
• Hou ʼn tradisionele braai. Laat die mans sorg vir die vleis en elke strooimeisie ’n bykos maak. Dit is altyd ʼn lekker manier om vriende te maak en sommer net ʼn goeie tyd te hê.
• Hou ʼn kaas- en wyn-aand. Elke lid van die gevolg bring dan hulle gunstelingwyn en julle reël onder mekaar peuselhappies. Dit kan julle help om te besluit watter wyn julle op julle troue wil hê. Almal kan proe en aan die einde kies julle wyn wat die meeste mense van hou. Dit is ʼn lekker geselligheid en beslis ʼn manier om ontslae te raak van enige spanning onder mekaar.
• ʼn Speletjiesaand. Dit is soveel pret. Kry heerlike kos en drankies en speel bordspeletjies saam met jou gevolg tot die son opkom. Dit is ʼn uitstekende manier om mekaar se karakter, swakpunte en sterkpunte te leer ken. Dit kan verseker help om die beste uit mekaar te bring tydens hierdie avontuur.

Dit klink na soveel pret en plesier. Wat dit nog lekkerder maak is dat jy tyd saam jou gunstelingmense gaan spandeer. Dit kan soveel voordele inhou vir julle groot dag en daar is die lekkerste maniere om dit aan te bied. Jou gevolg mag dalk net ook beste vriende word.

Foto: Lauren Anddelwyn

KLIEK ONDER VIR OULIKE GESKENK-IDEES VIR JOU GEVOLG

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA