’n Troue in ’n klassieke antieke styl was presies wat Donovan en Courtney vir hulle spesiale dag wou hê. Lees verder om foto’s van hulle mooi dag te sien.

Donovan en Courtney het by die beeldskone Oakfield Farm troue gehou. An-Sophie Lourens het gaan uitvind hoe hulle die troutema en venue met mekaar vereenselwig het.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“Ek was ’n kelnerin by ’n kroeg, waar Donovan een aand gekuier het. Hy het aanhou terugkom net om my te sien. ’n Paar maande later was ons gunsteling-tydverdryf van die week om tyd saam te spandeer.”

WANNEER HET JULLE BESEF JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR?
“Na ’n paar jaar en vele herinneringe het ons geweet, ons wil die res van ons lewens saam spandeer. ’n Mens weet net, dit is daardie God-gegewe vrede, wat ’n mens se verstand te bowe gaan om te weet dit is die een.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA VOOR DIE TROUE?
“Hy wou my by die Botaniese Tuine vra, waar ons eerste afspraak en soen was, maar die weer was glad nie aan sy kant nie. Die volgende dag het ons middagete gaan eet by die Saxon Hotel, waarna ons deur hulle pragtige tuine geloop het. Hy was vreeslik op sy senuwees. So terwyl ek nog besig was om te sê hoe mooi die tuine is, het hy my gevra om te trou.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons was ’n jaar en twee maande verloof. Ons was dadelik verlief op Oakfield Farm. Ek het geweet ek soek pers, my gunstelingkleur, vir die troue. Ons het besluit op skakerings van pers, fuschia-pienk, room en silver. Die tema van die troue, het my droomtrourok gekomplementeer.”

BESKRYF DIE ATMOSFEER OP JULLE TROUE?
“Opwinding, geluk, vrede en ’n bietjie senuwees het in die lug gehang. Dit was ’n ongelooflike ervaring. Van voor die kansel tot die res van die aand se gebeure het verby gevlieg, en ons het gesweef. Liefde was oral sigbaar. Twee mense wat een word, twee families wat bind. Wat meer kan ’n mens voor vra as net liefde!”

WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR BY JULLE TROUE?
“Al die groot elemente van die troue het perfek in plek geval. Een van my bruidsmeisies, het uit haar eie uit, groot houtletters wat liefde spel vir die bruidsmeisies gemaak om in die kerk in mee te stap. Ons het geen komplikasies gehad nie, te danke aan ons goeie vriende en sterk ondersteuningsnetwerk.”

HET ENIGIETS BESONDERS OP DIE DAG VAN DIE TROUE GEBEUR?
“My ouma, so oud soos wat sy is, was vreeslik gedetermineerd om my ruiker te vang. Sy het selfs die jonger meisies weggestamp daarvoor!”

HET JY ENIGE RAAD VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
* Wees eerlik met jouself en jou diensverskaffers.
* Alles hoef nie duur en topklas te wees nie, kyk bietjie rond vir goedkoper items of probeer om dit self te maak.
* Sluit vir manlief in, dit is sy troue ook. (Hy verbaas jou dalk net met wat hy mee vorendag kom.)
* Niemand weet wat jy beplan het nie, so as dit nie so is nie moenie bekommer nie.

WAS DAAR SELFDOENPROJEKTE OP JULLE TROUE?
* “God’s Knot” (’n koord met drie drade.)
* Spyskaarte, naamplaatjies, ’n seremonie-tydlyn, uitnodigings en sitplekaanwysings.
* Die houtletters en papierblomme van die bruidsmeisies.

Met ondersteuning, goeie organisasie en self-kreatiwiteit, het Courtney en Donovan ’n ware bruilofsfees in pers en pienk gevier. Sy raai toekomstige bruide aan om nie die ware betekenis van ’n troue mis te kyk nie. Op die einde van die dag gaan dit oor julle huwelik en nie die troue nie, dit is net die feesviering.

Vir nog pragtige regte troues, kry die splinternuwe uitgawe van Troukoors Tydskrif, wat nou op die rak is by Spar, Clicks, Checkers, Pick n Pay en in Namibië!

 

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering en spyseniering: Oakfield Farm – Dairy Chapel
Blomme en dekor: Sweet Pea Collection
Linne en dekor: The Linen Box
Troukoek: Kelly Jayne’s
Foto- en videograaf: Open Image Photography
Musiek: Sound Worx
Trourok: Vonve Bridal Couture
Hare: Exclusive Bridal Hair
Grimering: Make-up by Taryn

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA