Buitegemeenskap van goedere is die nuwe gonswoord onder paartjies wat gaan trou. Maar wat beteken dit? Cecile Roux van Basson Roux Attorneys gee meer inligting hieroor.

’n Huwelik buitegemeenskap van goedere word beklink deur ’n huweliksvoorwaardekontrak (HVK) op te stel. Die ooreenkoms moet voor die huwelik aangegaan word en laat die eggenote toe om hulle eie gepaste huweliksgoederebedeling op te stel.

Buitegemeenskap van goedere beteken dat albei partye steeds hulle eie boedels besit en dat elkeen die vryheid het om met hul boedel te doen soos hulle wil, sonder toestemming van die ander. Elke party kan bates koop of verkoop en sal verantwoordelik wees vir hul eie skuld.
Wanneer julle hieroor gesels, kan die ooreenkoms óf met aanwasbedeling óf sonder aanwasbedeling wees.

1. BUITEGEMEENSKAP VAN GOEDERE, MET AANWASBEDELING:
Wat presies is aanwasbedeling? Die aanwasstelsel sal slegs van toepassing wees met ontbinding van die huwelik. Die aanwasstelsel het geen gevolge vir die buitewêreld nie: dit is suiwer ’n interne reëling tussen ’n getroude paartjie. As die huwelik opbreek, hetsy deur dood of egskeiding, sal die waarde van die bates, wat gedurende die huwelik bygevoeg is, gelykop verdeel word.

Die aanwasbedeling word bepaal deur die verskil in die netto-aanvangswaarde en die netto-sluitingswaarde van die boedel van elke eggenoot te bereken met die uitsluiting van erfinisse, legate en skenkings. As die huwelik dan sou opbreek, sal die waarde van die verskil in die aanwasbedeling van die twee boedels, met die inagneming van inflasie, eweredig verdeel word. Geen skuldeiser kan enige skuld verhaal wat op die ander party se naam is nie.

Aanwasbedeling is iets wat die wetgewer in 1984 opgelê het om die huismaker te beskerm. Die meeste moeders het bygedra tot die huishouding deur tuis te bly om die kinders te versorg en die huishouding te bestuur. Dit het beteken dat hulle nie hulle eie boedels finansieel kon laat groei nie. As hulle buitegemeenskap van goedere getroud was en die huwelik geëindig het, is hulle met niks nagelaat nie. Dit was natuurlik nie regverdig nie, aangesien die man nie sy boedel sou kon uitbrei soos hy gedoen het, as sy vrou nie bygedra het deur uitgawes te bespaar en na hulle kinders om te sien nie.

Baie mense dink dalk dat hierdie konsep verouderd is, maar in die werklikheid is aanwasbedeling nogsteeds baie relevant. In baie huishoudings kan een eggenoot ’n laer betalende werk of posisie hê, sodat hulle meer tyd beskikbaar het om na die huishouding of kinders om te sien. Hulle kan saam met of vir hulle eggenoot werk of hulle kan tuis bly om die kinders te versorg.

Die aanwasstelsel bied dus ’n regverdige, moderne en billike stelsel wat bevorderlik is vir ’n harmonieuse huweliksverhouding. Kortom, dit beteken dat elke party hulle eie afsonderlike boedels het, maar aan die einde van die huwelik deel albei in dit wat tydens die huwelik opgebou is.

2. BUITEGEMEENSKAP VAN GOEDERE, SONDER AANWASBEDELING:
Hierdie stelsel is waarskynlik die maklikste een te verstaan. Dit beteken letterlik: Wat myne is, is myne en wat joune is, is joune. Julle deel dus geen bates of aanspreeklikhede (behalwe as julle iets op albei se naam koop) voor, tydens of na die huwelik nie. Hierdie sisteem is die een wat ons gewoonlik sal aanbeveel waar albei partye selfversorgend is en nie tuisbly om by te dra tot die huishouding op ’n nie-finansiële manier nie. Voorbeelde hiervan is paartjies wat reeds ’n groot boedel het, ouer kinders uit vorige huwelike het of wat nie kinders saam wil hê nie. Om aanwasbedeling uit te sluit, moet jou kontrak dit uitdruklik verklaar of dit sal outomaties van toepassing wees.

Op die ou einde is daar nie een opsie wat beter is as die ander nie. Elke paartjie moet na hulle eie spesifieke behoeftes kyk en hul besluit daarop baseer.

So nou het jy en jou toekomstige huweliksmaat die verantwoordelike besluit geneem om ’n HVK te kry, wat nou? Het jy geweet dat die regsaspekte van jou HVK opgestel kan word om julle te pas? Julle kan letterlik enige bepalings insluit, solank dit nie teen die wet, goeie moraal of die aard van die huwelik is nie.

Die laaste ding wat julle nou te doen staan is om jou prokureur te kontak en ’n afspraak te maak. Onthou dat ’n HVK voor die troue geregistreer moet word as julle besluit om buitegemeenskap van goedere te trou, dus is dit noodsaaklik om ’n afspraak te maak ten minste een maand voor die troue.

SPESIALE AANBOD
Basson Roux Attorneys besef dat trouseisoen om die draai is en bied daarom tans ’n spesiale promosie aan. As jy voor die einde van November 2017 jou afspraak maak, met Troukoors-huwelikskontrakpromosie in die onderwerpreël, om hulle te gaan sien, sal jy slegs R1 500 vir jou voorhuweliksekontrak betaal (alles ingesluit).

As julle buitegemeenskap van goedere wil trou, is dit beter om die bal aan die rol te kry, sodat julle kan ontspan.

Vertaling: Minette Badenhorst
Foto: Thai Embassy

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA