maklik en gesond 1
Hierdie is die ideale resep as jy min tyd het en graag van die begin van julle nuwe lewe saam af wil toesien dat manlief gesond eet.

Daar is niks so gesond en lekker op ’n somersaand soos ’n lekker stukkie gebakte vis nie. Verras die man in jou lewe met kerse, witwyn en hierdie heerlike visgereg – wat baie maklik is om te maak.

Hierdie gereg is regtig maklik en heerlik saam met ’n slaai of groente.

maklik en gesond 2

Gebakte witvis met ’n kruiekors
Genoeg vir 4
Tyd: 30 minute

Bestanddele:
’n Groot stuk witvis, ontgraat, maar nie in porsies gesny nie
Sout en peper
Ongeveer 2 teelepels (10 ml) mosterd
2–3 eetlepels (30–45 ml) mayonnaise
2 snye brood, wit of bruin
1 koppie (250 ml) gerasperde cheddar- of goudakaas
2 eetlepels (30 ml) gekapte vars pietersielie, grasuie of marjolein, of 1 teelepel
(5 ml) droë kruie

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat met aluminiumfoelie uit as jy het (minder skottelgoed), of smeer andersins liggies.
  2. Plaas die vis op die plaat, geur goed met sout en peper, en smeer met mosterd en dan met mayonnaise.
  3. Frommel die sny brood effens en rasper aan die growwe kant van die rasper tot dit amper soos fyn broodkrummels lyk. Die krummels hoef nie ewe groot te wees nie.
  4. Meng die broodkrummels, kaas en kruie, en meng. Bedek die vis daarmee.
  5. Bak 12–15 minute lank, na gelang van die grootte van die vis, en druk ’n mes in om te kyk of dit gaar is.

Resep geneem uit YUM-MO deur Carina Truyts.

Kliek op op Human & Rousseau se webblad vir meer inligting.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA